Vas in kettings – No. 3
- Houtkruis AlephTav
- Feb 26
- 5 min read
Updated: Mar 24

Herodes se Plan en God se Getrouheid
Ons weet dat Herodes, nadat hy vir Jakobus doodgemaak het, ook vir Petrus gevang en in die tronk gestop het met die doel om hom die volgende dag tereggestel te kry.
Herodes was so vasberade om Petrus dood te maak dat hy selfs vier wagte (twee-twee om die beurt) aangestel het om hom op te pas. Boonop was Petrus se hande en voete met twee kettings vasgeketting.
Net so is die vyand vandag nog besig om alles in sy vermoë te doen om my, jou en elke kind van Abba Vader, wat gevul is met die Heilige Gees, te weerhou van vryheid. Die vyand sal alles in sy mag doen om Yeshua se hande en voete te stop sodat ons nie verder kan doen waarvoor Abba Vader ons geroep het nie. Tog het ons gesien dat Abba Vader sy beste werk doen in omstandighede wat menslik onmoontlik en vreesaanjaend lyk.
Abba Vader, wat sy beloftes aan ons gegee het, is getrou en sal altyd getrou wees – maak nie saak hoe onmoontlik, hopeloos of vreesvol die situasie mag wees nie. Yeshua sê in Markus 10:27: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.”

Die Kettings van Vrees en Twyfel
Onthou, Petrus was in die tronk gegooi en met twee kettings vasgeketting – een aan sy hande en een aan sy voete. Interessant genoeg, wie anders was so vasgemaak? Yeshua was aan die kruis vasgespyker – sy hande en sy voete!
Kan dit wees dat hierdie twee kettings wat Petrus se hande en voete vasgeketting het, simbolies is van vrees en twyfel? Is dit nie juis vrees en twyfel wat ons weerhou om Yeshua se hande en voete te wees in ‘n gebroke wêreld nie?
Yeshua sê in Matteus 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Maar doen ons dit? Of kyk ons hoe ander dit doen terwyl ons wag? Wag ons vir genoeg kennis? Vir geleerdheid? Of is dit die kettings van vrees en twyfel wat ons so vashou dat ons nooit die opdrag uitvoer nie?
Dalk staan jy tans by ‘n kruispad in jou lewe. Abba Vader het ‘n wonderlike droom vir jou, en jy weet dit. Maar die vyand kom en lê al hierdie sogenaamde onmoontlike hindernisse voor jou neer, sodat jy skaars die droom wat Abba Vader vir jou het, kan raaksien.
Dís presies wat die vyand doen! Hy sal alles in sy vermoë doen om jou vas te ketting, jou in ‘n onmoontlike situasie te sit en jou te verhinder om die droom wat Abba Vader vir jou het, uit te leef. Hy wil jou voete vasketting sodat hy die roeping wat Abba Vader vir jou het, kan stop. So, watter twee kettings gebruik die vyand?
Die ketting van vrees.
Die ketting van twyfel.
Vrees sê vir jou: Jy kan nie gaan waar Abba Vader sê jy moet gaan nie. Jy het nie wat dit verg nie. Jy is nie geleerd genoeg nie. Wat gaan mense van jou sê? Of: Wat as ek dit nie maak nie? Wat as ek misluk? Wat as ek nie goed genoeg is nie?
Hierdie ketting van vrees pak ‘n mens vas en hou jou so stewig vasgeketting dat jy nêrens kan beweeg nie. Maar vrees is nie van Abba Vader nie! Paulus sê in 2 Timoteus 1:7: “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Hoekom waag ons dit dan nie om, soos Petrus, uit die boot te klim nie?

Uit die Boot Klim en Op die Water Loop
Petrus het al voorheen gevrees en getwyfel. Toe Yeshua die menigte gevoed het, het Hy na ‘n plek gegaan waar Hy alleen kon wees. Intussen het die dissipels omtrent 5 tot 6 km van hulle bestemming af op die See van Galilea gesukkel teen ‘n sterk wind. Hulle moes veg om die boot regop te hou – en toe sien hulle iets op die water na hulle toe kom!
Hulle het groot geskrik en uitgeroep: “Dis ‘n spook!” Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” (Matteus 14:26-27)
Soms is dit net nodig om Abba Vader se stem in ons storm te hoor, om te weet Hy is met ons. Maar ons raak vasgevang in ons eie vrese en sien net die golwe en kettings wat ons bind.
Die gerusstelling van Yeshua se teenwoordigheid op die water het egter ‘n reaksie by Petrus ontlok – hy het sy voete op die water gesit en die onmoontlike gewaag! Toe Petrus Yeshua in die storm hoor, het hy bo sy vrees en twyfel uitgestyg en in geloof begin loop, omdat hy vir Yeshua gesien en gehoor het.
Yeshua het vir Petrus gesê: “Kom!” Met ander woorde, Hy het hom uitgenooi om die onmoontlike te doen. As jy op die water wil loop, moet jy bereid wees om uit die boot te klim sodat die kettings van vrees en twyfel kan afval.
Baie keer lyk ons omstandighede so onmoontlik dat dit voel asof ons nooit daaruit gaan kom nie. Maar hoor weer: As jy op die water wil loop – moet jy uit die boot klim!
Petrus het sy Koning op die water gesien en uitgeroep: “As dit U is, beveel my om op die water te loop.” Yeshua het hom met een woord geantwoord: “Kom!!”
Interessant genoeg het Yeshua hom nie vooraf uitgenooi nie. Dit was Petrus se begeerte wat hom daartoe gedryf het, en toe hy optree, het sy geloof dit vir hom moontlik gemaak om op die water te loop!
Die kettings van vrees en twyfel hou ons egter weg van geloofstappe wat Abba Vader van ons vra. Watse stappe van geloof moet ek en jy vandag neem? Kyk ons na die golwe en kettings wat ons bind, of rig ons ons fokus op Hom?
As ons op die water wil loop, moet ons bereid wees om uit die boot te klim. Dit vra dat ons opstaan en stap in die rigting waarheen Abba Vader ons roep – al is ons hoe bang en al twyfel ons hoe. Abba Vader maak soms deure vir ons oop, maar ons ignoreer dit, omdat ons nie die onbekende wil betree nie.
Ons sien so baie ander op die water loop, maar ons is nie bereid om dieselfde geloofstap te neem nie. Dan raak ons jaloers en wonder hoekom hulle so ‘n wonderlike lewe het.
So die vraag is: Is jou hande en voete tans vasgeketting om dit te doen waarvoor Abba Vader jou geroep het? Sal jy opstaan en uit die boot klim?
As jy op die water wil loop … moet jy bereid wees om op te staan en uit die boot te klim!

Comments